Leef met lig - ALGEMENE DANKIE LYSIE




Ons almal kyk elke dag vas in die mense wat by die robotte staan en bedel. Het die gedagte al in so ‘n oomblik by jou opgekom van:  “ dankie Vader dat dit nie ek is wat hier staan nie, of dankie dat ek ‘n werk het”.  Sit jy lekker snoesig en warm in jou huisie op ‘n koue wintersaand en TV kyk en wonder hoe die boemelaars op die straat vannaand voel?  My idee is nie om jou te laat skuldig voel nie, in teendeel.  Buiten vir al ons klagtes en tekortkominge in die lewe, is daar eintlik so baie dinge waarvoor ons kan dankie sê.  Dit is die algemene dingetjies wat ons so vanselfsprekend aanvaar, waarvoor ons nie altyd dankie sê nie:  Kraanwater in ons huise, ‘n spoeltoilet, elektrisiteit, ‘n tuin/grasperk, ‘n bad/stort, kos op die tafel, ‘n gesin, ‘n familie, gesondheid, ens.  Gaan maak ‘n lysie van dié dinge wat jy sal mis, as dit nie meer daar is nie.  Buiten vir al die ander dinge waarvoor ons Vader elke dag moet bedank, moet ons elke nou en dan gaan stilstaan en rondom ons kyk en dankie sê vir die dinge wat vir sommige van ons algemeen of vanselfsprekend is. ‘n Goeie idee is om die oggend of aand van elke “pay day” hierdie lysie vir Vader voor te lees en Hom te bedank. Skryf ook sommer elke maand se nuwe goedjies by.  Jy sal gou agter kom hoe geseënd jy is.  

Wat sê die Bybel hieroor:

1 TIM 2:1
   Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense,

1 TIM 4:4
   Alles wat God gemaak het, is immers goed. Niks wat met danksegging ontvang word, is verwerplik nie,

PSALMS 69:31
   Ek wil die Naam van God prys met ’n lied en Hom groot maak met danksegging;

PSALMS 116:17   
Ek sal U ’n offer van danksegging bring en die Naam van die HERE aanroep.